Restourasie

Vir M

Jy het die klein geboutjie deernisvol beskou
en fyn geluister na die taal van ou vermolmde hout,
verweerde steen en pleisterklei.
Voel-voel moes jy besin
waar die vervloë lyne
van die eerste grondplan loop.
Toe het jy intuïtief begin:
aanbousels van 'n eeu gesloop;
aan die vervalle rammelkas
van rousteen, sink en glas
met hamer, troffel, waterpas
gemeet, gekap, gevoeg, gelas,
gemessel en getimmer ...
tot uit die amorfie van steierwerk
en rommel vonkelnuut herrys
die sober lyne van die Neo-Gotiek,
net soos honderd jaar gelede,
kompleet met gewels, misvloer, rietplafon,
spits venstertjies en dak van gras,
tot waar die aandag saamtrek by
die Boek
wat oop lê op die geelhoutkanseltjie,
beskeie klein en sedig in die hoek.

No comments:

Ons besoekers...

ip-location

Totale Besoeke