Suikerbekkies

Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom.
Onnodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat 'n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!

Nagwandeling

In memoriam GLK

Ons wandel soos weleer
al langs die waterstrome
in Tomstraat noordwaarts
onder donker bome;
Mozart en die maanlignag
speel silwerfluite oor die dam;
drie najaarspopuliere vlam
by Noordbrug ten die lug;
in basbruin kronkelstamme
van wilgers by die Mooirivier:
Vivaldi, Rilke, Vondel en Van Gogh.

Dis meer as vyftig jaar gelede -
verlore is die Schwärmerei.
Die huisie in Malherbestraat
lankal gesloop,
die erf: Te koop.
Die watersloot is opgedroog,
die wilgers omgeval,
die populiere dood.

En jy?
- jy wat die wonder van die skoonheid
suiwer soos 'n kind
beleef het lewenslank -
hoe kán jy dood wees
as jy nou nog soms
vlamhelder in my drome leef?

Tuiskoms

As ek 'n ganse dag
na sug op sug en klag op klag
van sterwendes moes luister in die siekeboeg,
dan gaan ek huis toe saans,
doodmoeg.
Voordat ek bed toe gaan
om in die slaap sesoet vergetelheid te sink,
skuif ek oplaas die swaar gordyne dig
en keer weldadig by my leeslamp in
en soek vertroosting in die sagte lig
by groot musiek en poësie.

> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Groenspreeu

Die digter is 'n leuenaar wat altyd die waarheid praat
Jean Cocteau

Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
hy lieg die aarde pimpelblou.

Hy fluit die hemel lowergroen,
paljas 'n pruim tot perlemoen.

Hy tierelier die suring soet,
die katjiepiering swart soos roet.

Hy vonkel, konkel, toor die son
tot 'n ranonkelrooi ballon.

Die groenspreeu is 'n kunstenaar -
soms lieg hy selfs die waarheid waar.

> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Herfs

Ek het die najaar lief
al skryf hy elke maal
April en Mei subtiel en suggestief
in duister taal
veel ouer nog
as Sanskrit, spykerskrif of hiëroglief
dieselfde ou verhaal ...
Die eerste week in Junie liasseer ek hom finaal
- 'n klaar vergeelde brief -
diep in die hart se klein argief.

Swartkomyn

                          Jesaja  28:27

Die landman weet hoe fyn
die klein swart saadjies is -
hy saai hul met 'n ligte hand
in vakkies in 'n sagte land.
Wanneer die oes- en dorstyd kom,
word swartkomyn nie met die skop
soos koring, gars en spelt wyd op
die dorsvloer oopgestrooi
waar beeste trap en perde draf,
wawiele oor die stoppels gaan,
die dorsslee stamp en skeur en skok -
komyn word in 'n sak gegooi
en saggies met 'n ligte stok
geslaan.

Naamloos

Twee duiwe het van die nes af opgevlie -
die en het teruggekom, die ander nie.

Twee bome het jare saamgegroei -
die lente staan net een in bloei.

Roofvoël

Mag ’n mens God beroof?
Maleagi 3:8

’n Roofvoël op die tempeldak
het deur die rookkolom geduik
– die priesters het vergeefs gekeer –
hy’t oor die altaar heen geskeer,
die lam in albei kloue opgeraap
en ylings na sy nes gevlieg
om sy berooide kroos te voed.
Klein kooltjies van die heilige vuur
het aan die offervleis bly kleef,
gesmeul en in die nes van strooi
in ligte laaie opgevlam.

Ons besoekers...

ip-location

Totale Besoeke