Herfsblaar

1

'n Somer lank het hy
teen stormgeweld van wind en reën
vas aan die tak gebly.

Aprilmaand, in die najaar al,
het net 'n roering in die lug
hom saggies aarde toe laat val.

2

Dat juis dié blaar
van alle blare in die woud
van alle woude wêreldwyd
moes val

op hierdie plek
van alle plekke in die heelal
biljoene teraparseks wyd
na elke kant
tot in die swart oneindigheid

op hierdie oomblik van die tyd
wat weerskante reik
tot aan die grense
van die ewigheid ...

Romantiek van die pastoraat

'n Ligte werk wat 'n emeritus
teen die verveling van die oudag
sal beskerm?

Nou tien jaar al
sprei ek my pastorale vlerk
beskermend oor hul uit
en vou hul in die liefde toe
van Christus en sy kerk.

Maar, Here God, U weet,
ek hou my hart met albei hande vas
wanneer ek smôrens binnegaan
in hierdie groot
wagkamer van die dood.

Bosluisvoëls

Drie bosluisvoëls wat ylings vlug
na skuiling in die bloekombos,
skryf oor die bloudruk van die storm
'n witskrif teen die pikswart lug.

Restourasie

Vir M

Jy het die klein geboutjie deernisvol beskou
en fyn geluister na die taal van ou vermolmde hout,
verweerde steen en pleisterklei.
Voel-voel moes jy besin
waar die vervloë lyne
van die eerste grondplan loop.
Toe het jy intuïtief begin:
aanbousels van 'n eeu gesloop;
aan die vervalle rammelkas
van rousteen, sink en glas
met hamer, troffel, waterpas
gemeet, gekap, gevoeg, gelas,
gemessel en getimmer ...
tot uit die amorfie van steierwerk
en rommel vonkelnuut herrys
die sober lyne van die Neo-Gotiek,
net soos honderd jaar gelede,
kompleet met gewels, misvloer, rietplafon,
spits venstertjies en dak van gras,
tot waar die aandag saamtrek by
die Boek
wat oop lê op die geelhoutkanseltjie,
beskeie klein en sedig in die hoek.

Voortekens

Die maan gooi uit,
wyd rondom dryf
'n newelkring.
Die weerlig slaan
saans ver-wes uit.
Die wind staan noord.
Die slange seil.
Krimpvarkies kruip.
Jagspinnekoppe loop.
Die bye brom.
Die miere werk,
dra stokkies om en om.
Die reënvoël roep.
Die stormlelies blom.

Hospi-taal

Jou woordeskat bevat meteens
veel meer as HAT of WAT:
aritmee - ritmesteurnis -
ventrikulêr of atriaal,
jou hart klop tagikardiaal
bo in jou keel.
Paroksismaal is dit fataal.
Maar op die rekenaar kan hul bepaal
of jy met 80 mg Sotakor per dag
solank jy leef,
dalk tog die paal kan haal.

31 Julie 1986

Ons besoekers...

ip-location

Totale Besoeke